AKADEMIESE BELEID

GRONDSLAGFASE, INTERMEDIêRE– EN SENIORFASE AKADEMIE 

Die leerlinge by Laerskool Nelspruit se akademiese, emosionele en geestelike vorming vorm die kern van ons onderrig.

Basisvaardighede aanleer en inoefen is in ons klaskamers ‘n prioriteit.

Opvoedkundig verantwoordbare onderrig is Laerskool Nelspruit se Akademiese aksieplan vir sukses.

VISIE

Laerskool Nelspruit se visie is om alle moontlike menslike en natuurlike hulpbronne maksimaal te ontgin en te benut om sodoende ons leerlinge te lei en ontwikkel, ten einde hul volle potensiaal te bereik om hul plek eendag in die samelewing as verantwoordelike landsburgers vol te staan. 

MISSIE

Laerskool Nelspruit se missie is om die basiese vaardighede op alle terreine van alle leerlinge maksimaal te ontwikkel, ten einde leerlinge te bemagtig om hulle volle potensiaal te bereik in die hoërskool en uiteindelik as verantwoordelike landsburgers. 

DOELWITTE VAN AKADEMIE BY LAERSKOOL NELSPRUIT

  • Leerlinge moet voorberei word vir volwassenheid.
  • Handhaaf ‘n hoë standaard.
  • Alle leerlinge se potensiaal moet ontwikkel word.
  • Ontwikkel selfstandige, kritiese denke.

HOE HIERDIE DOELWITTE BEREIK KAN WORD

  • Onderwysers is kundig, toegewyd, gemotiveerd en entoesiasties.
  • Deeglike beplanning en voorbereiding vir elke les is noodsaaklik.
  • Leerlinge moet gedissiplineerd en gemotiveerd wees. 
  • Alhoewel tegnologie nie die onderwyser kan vervang nie, is dit ‘n uiters belangrike hulpmiddel en beskik elke klas ‘n dataprojektor wat die kurrikulum – lesse visueel in volkleur vertoon.

AKADEMIESE TYD   

Die KABV (CAPS) – kurrikulum soos deur die Onderwysdepartement voorgeskryf, word gevolg.

  • Elke periode moet ten volle benut word.
  • Daar moet te alle tye ‘n ordelike klasatmosfeer in die klaskamers heers.
  • Leerlinge mag nie gedurende periodes uit klasse wees nie.
  • Leerlinge moet nie onderrig steur of verhinder nie.
  • Leerlinge moet klasopdragte stiptelik nakom.
  • Elke leerder moet sodanige huiswerkboek as wat die hoof of onderwyser/es mag voorskryf, hou en in stand hou.
  • Elke leerling moet sy/haar voorgeskrewe skoolwerk met ywer, pligsgetrouheid en toewyding doen om sodoende ’n deurlopende werksetiek te ontwikkel.
  • Dit is die leerling se plig om werk wat hy/sy gemis het so spoedig moontlik in te haal.  

OUERAFSPRAKE

Dit is belangrik dat Laerskool Nelspruit ‘n oop deur vir ouers sal hê.                                                                                                               

Die leerlinge by Laerskool Nelspruit se akademiese, emosionele en geestelike vorming vorm die kern van ons onderrig en ouers kry terugvoering oor hul kinders se vordering.

Intervensie

Probleme word betyds onder die ouer se aandag gebring. Wanneer die onderwyser dit nodig ag, kan die ouers van ‘n leerling versoek word om hom/haar te kom spreek.                        

In kwartaal 1, 2, 3 en 4 word 10 minuut afsprake vooraf gemaak waar bekommernisse rakende die kind en sy/haar Akademiese vordering aangespreek word.

Ouers kan ook ‘n afspraak maak om die onderwyser te spreek.

Onderwyser kan vra dat medeonderwyser/Departementshoof/Adjunkhoof/Hoof insit met onderhoude.

Ouers word op hoogte gehou van die kind se vordering tydens informele gesprekke, geskeduleerde ouerafsprake, telefoonoproepe, briewe en formele afsprake.

OUERAAND – INLIGTINGSESSIE

Een oueraand in die begin van ‘n nuwe jaar.

Alle ouers word in Januariemaand uitgenooi na ‘n inligtingsessie in die Registeronderwyser/es se klas die eerste Maandag en Dinsdag van die tweede week van skool. Gr. 1, 5, 6, 7 op die Maandagaand en Gr. 2, 3 en 4 op die Dinsdagaand.  Tydens die ouerinligtingsaand word ‘n “PowerPoint” aanbieding met die ouers bespreek.   

GRAAD 1 – 3

Al die vakke voorgeskryf vir KABV word aangebied: Afrikaans Huistaal, Afrikaans Eerste Addisionele Taal, Engels Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal, Wiskunde en Lewensvaardigheid.

GRAAD 4 – 6

Al die vakke voorgeskryf vir KABV word aangebied: Afrikaans Huistaal, Afrikaans Eerste Addisionele Taal, Engels Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal, Wiskunde, Sosiale Wetenskappe, Natuurlike Wetenskappe en Tegnologie, Persoonlike Welstand en Skeppende Kunste.

GRAAD 7

Al die vakke voorgeskryf vir KABV word aangebied: Afrikaans Huistaal, Afrikaans Addisionele Taal, Engels Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal, Wiskunde, Sosiale Wetenskappe, Natuurlike Wetenskappe, Tegnologie, Lewensoriëtering en Skeppende Kunste.

EKSAMENS EN ASSESSERINGS GR 4 – 7

Alle leerlinge skryf aan die einde van die tweede en vierde kwartaal ‘n volledige eksamen.

Deurlopende assesseringspunte (toetse en opdragte) soos vereis van KABV word gebruik as punte op die vorderingsverslag aan die einde van eerste en derde kwartaal.

TOP 10 AKADEMIESE TOER

Doel

Om leerlinge by Laerskool Nelspruit wat akademies presteer te beloon met ‘n Top 10 Akademiese toer. Die toer word onderneem gedurende November. Drie dag toer na Gauteng en Mpumalanga.

Wie kwalifiseer vir die Top 10 Akademiese toer?

  • Lys van die Top 15 leerlinge in Graad 5 – 7 word saamgestel.
  • Leerlinge wat onder die Top 10 in ‘n Graad eindig word uitgenooi. 
  • Die 3K punt aan die einde van Kwartaal 3 word gebruik om te bepaal wie op die Top 10 Akademiese toer gaan. 
  • Indien ‘n leerling nie die toer kan meemaak nie word daar gekyk na die volgende leerling op die lys.