Kultuur
Kultuur by Laerskool Nelspruit, onder leiding van ons onderwysers, bied aan elke kind ‘n platform om hul eie stem en kreatiewe talent te ontdek. Ons doel is om die liefde vir kultuur so vas te lê dat dit ‘n blywende deel van hul hele lewensreis word.
'n Fees vir die uitvoerende en skeppende kunste.
Die Eisteddfod bied ’n platform waar kreatiwiteit, passie en talent gevier word. Dit gee leerders die geleentheid om hul artistieke vermoëns in ’n ondersteunende omgewing te verken, terwyl hulle die waarde van dissipline, deeglike voorbereiding en selfuitdrukking aanleer. Deur deelname aan hierdie kultuurhoogtepunt kry leerders die kans om hulself uit te daag, hul vaardighede te slyp und die persoonlike groei te ervaar wat daarmee gepaard gaan om hul talente met ’n gehoor te deel.
Ons skool neem amptelik in die volgende kategorieë deel:
- Redenaars
- Spreekkoor
- Koor
- Voordrag
- Drama
Ontwikkeling van Talent
Benewens die amptelike groeps- en skoolinskrywings, word leerders ook aangemoedig om as individue in te skryf. Dit bied die ideale geleentheid vir leerders om hul unieke talente in kategorieë soos dans, musiek, fotografie en kuns op eie bodem of op die verhoog uit te leef. Die fokus is deurgaans om elke leerder te help om met selfvertroue, doelgerigtheid en trots hul volle potensiaal te bereik.
Organiseerder: Geraldine Barnard
By Laerskool Nelspruit is ons Juniorkoor en Seniorkoor plekke waar die genot van sang eerste kom. Ons glo dat koorsang een van die mooiste maniere is om kinders te leer hoe om as ’n span saam te werk—hier leer meer as 60 leerders dat elke individuele stem tel om een pragtige eenheid te vorm.
Passievolle leiding en ontwikkeling:
Die hart van ons koor is ons begeleidster, wat met ’n BMus (Hons)-graad en ’n tasbare passie vir musiek, die leerders begelei. Haar liefde vir die koor is aansteeklik en sy skep ’n omgewing waar leerders veilig voel om hul stemme te ontwikkel.
Keuring en ontwikkeling:
Leerders vooraf gekeur – Diegene wat die nodige aanleg en passie toon, word uitgenooi om deel te word van hierdie spesiale groepe. Ons fokus nie net op die eindproduk nie, maar op die deurlopende ontwikkeling van die stem deur:
Weeklikse oefensessies regdeur die jaar.
Intensiewe werkswinkels waar leerders fynere tegnieke en stembeheer aanleer.
Prestigeryke Optredes en prestasies:
Ons kore is ’n bekende gesig op plaaslike sowel as nasionale verhoë. Die geleenthede waaraan ons leerders deelneem, bied aan hulle ongelooflike blootstelling:
Kompetisies: Ons neem gereeld deel aan die ATKV-Applous, Nelspruit Eisteddfod, Allegretto Eisteddfod en die Choral Celebration Festival.
Unieke ervarings: Van die betowerende akoestiek van die Sudwala-grotte tot optredes by die Graad 1-Opedag en ons eie Voorbereidingskonserte.
Plaaslike trots: Ons kore het reeds die voorreg gehad om by Innibos saam met verskeie bekende Suid-Afrikaanse sterre op te tree.
Organiseerder: Isabel van Veenhuyzen
Buitemuurse Kuns: Ontsluit Kreatiewe Potensiaal
Kuns oor meer as net verf en papier; dit gaan oor die verkenning van kreatiwiteit en die slyp van vaardigheid. Ons buitemuurse kunsprogram bied aan ons senior leerders ’n platform om hul talente na nuwe hoogtes te neem.
Keuring en Fokus
Om gehalte-onderrig en individuele aandag te verseker, vind daar aan die begin van elke jaar ’n keuringsproses plaas vir leerders in Graad 5, 6 en 7 (ouderdomme 11–13). Tydens hierdie proses word daar gekyk na natuurlike talent, kreatiewe denke en die potensiaal om te groei.
Ten einde die hoogste standaard van kreatiewe begeleiding te handhaaf, beperk ons die groepe tot ongeveer 20–25 leerders per graad. Hierdie fokusgroepe kom een keer per week vir ’n intense en verrykende sessie van een en ’n half uur bymekaar.
Nasionale Blootstelling en Kompetisies
Ons Nellies neem gereeld aan gerekende kunskompetisies deel waar hul werk op ’n nasionale platform beoordeel word. Ons is trots op ons deelname aan:
ATKV Digi-Kuns: Waar tradisionele kuns en moderne tegnologie ontmoet.
Santam Kinderkunskompetisie: Een van die land se mees gesogte kunsuitdagings.
Eisteddfod: Waar ons leerders se werk jaarliks uitstekende prestasies behaal.
Organiseerder: Anika van Wyk
Die doel van redenaars is om leerders toe te rus met die selfvertroue om hul sê te sê. Hierdie aktiwiteit kweek kritiese denke, navorsingsvaardighede en publieke welsprekendheid van ’n vroeë ouderdom af.
Vanaf Graad 1 tot Graad 7 kry elke leerder die geleentheid om hul stem te dik te maak en die kuns van beredeneerde argumente te bemeester.
Kompetisies
Ons bied ‘n wye platform waar leerders op verskillende vlakke kan meeding:
Interhuis Redenaars: Waar dit alles begin! Hier kry ons leerders die kans om in ‘n ondersteunende omgewing teen hul maats kragte te meet.
Interskole Redenaars: Ons topsprekers verteenwoordig die skool met trots tydens vriendskaplike dog strawwe kompetisie teen ander skole in die omgewing.
Nasionale Platvorms: Ons Nellies is gereelde deelnemers (en presteerders) aan landswye kompetisies, waaronder:
ATKV-Redenaars
Oppitong Redenaars
Radikale Redenaars
‘n Tradisie van uitnemendheid
Ons is geweldig trots op ons leerders wat jaarliks uitsonderlik presteer op provinsiale en nasionale vlak.
Organiseerder: Megan Izeboud
’n Hoogtepunt van Kleur en Gees
Die Revue is sonder twyfel een van die mees opwindende gebeure op ons skoolkalender. Hierdie massiewe produksie vind elke vyf jaar plaas en betrek elke enkele leerder—van die kleinste Nellie Miere tot ons Graad 7-groep. Dit is ’n geleentheid waar die hele skoolgemeenskap, ouers ingesluit, saamkom om die kreatiewe energie van ons kinders te vier.
Die kaartjies vir hierdie produksie verkoop jaarliks binne rekordtyd uit, wat getuig van die hoë standaard en die gewildheid van hierdie spoggeleentheid. Om te verseker dat leer en pret hand-aan-hand loop, vind alle oefeninge gedurende skooltyd plaas in die kwartaal voor die Revue.
Waarom die Revue so besonders is:
Kreatiewe ontwikkeling: Dit bied ’n platform vir leerders om te sing, dans en toneel te speel. Hier kan hulle hul unieke persoonlikhede en talente wys op ’n manier wat nie altyd in die klaskamer moontlik is nie.
Bou van selfvertroue: Om voor ’n groot gehoor op die verhoog te staan, leer kinders om senuwees te oorkom en gee hulle ’n blywende gevoel van trots en prestasie.
Massa-spanwerk: Die voorbereiding van so ’n groot produksie vereis dat leerders leer om as ’n massiewe span saam te werk, mekaar te ondersteun en verantwoordelikheid vir hul spesifieke rol te aanvaar.
Onvergeetlike herinneringe: Die energie, humor en kleur van die Revue is iets wat leerders vir altyd bybly—dit is ’n tyd waar hulle saam kan lag, leer en op die verhoog “shine”.
Organiseerder: Monique Orton
Laerskool Nelspruit is die enigste skool in Mbombela wat hierdie unieke geleentheid vir dogters in Graad 2 en 3 bied. Die Pom-Poms gaan oor veel meer as net dans; dit is ’n vroeë platform waar ons jong dogters leer wat dit beteken om met selfvertroue voor ’n gehoor op te tree.
Deur deel te wees van hierdie groep, ontwikkel die dogtertjies belangrike lewensvaardighede in ’n prettige en ondersteunende omgewing. Hulle tree op tydens tuisbyeenkomste en spesiale skoolgeleenthede, en het selfs al die opwindende geleentheid gehad om op die groot Puma-stadion te verskyn.
Waarop ons fokus:
Selfvertroue: Deur gereeld voor mense op te tree, leer die dogters om senuwees te oorkom en met trots hul passie te deel.
Spanwerk: In ’n groep van hierdie aard is samewerking deurslaggewend. Hulle leer om saam te beweeg, mekaar te ondersteun en as ’n eenheid te funksioneer.
Toewyding en Dissipline: Om te verseker dat almal hul roetines ken, hou ons aan die begin van die jaar uitdunne en oefen die span getrou twee keer per week.
Die Nellie Pom-Poms is die perfekte plek vir jong dogters om hul koördinasie te verbeter, nuwe maatjies te maak en sommer net die vreugde van deelname en spangees te ervaar.
Organiseerder: Amoré du Plessis






Nellies glo ons dat elke leerder ’n kunstenaar in wording is. Ons jaarlikse Kultuurweek is die hoogtepunt op ons kalender waar die gange pols met energie, kleur en talent.
Gedurende hierdie week word die middae omskep in ’n kreatiewe speelplek. Van drama-werkswinkels tot kunsprojekte—ons leerders kry die geleentheid om hulself uit te druk en nuwe vaardighede te ontdek. Dit is ’n tyd van ontdekking waar passie en pret hand-aan-hand loop.
Die Groot Hoogtepunt
Die week bou op na ’n onvergeetlike afsluiting. Of dit nou die gewilde (en dikwels skreeusnaakse!) tweejaarlikse Personeelkonsert is, en of ons saam met gaskunstenaars die verhoog deel, daar is altyd ’n atmosfeer van samehorigheid.
Terwyl die kolligte op die verhoog brand, verander ons skoolsaal in ’n spoggerige galery. Ouers en vriende word genooi om deur die kunsuitstalling te stap en die pragwerk van ons eie Nellies te bewonder. Kom geniet die markdag, ondersteun ons jong talent, en ervaar die hartklop van ons skool se kultuur.
Organiseerder: Anika van Wyk








