Sport
Sport by Laerskool Nelspruit, word afgerig deur onderwysers, wat in hoofdoel poog om kinders bloot te stel aan ‘n sport of vaardigheid, om daarmee ‘n saadjie by die kind te plant, wat sal gedy in ‘n leeftyd van deelname!
By Laerskool Nelspruit streef ons daarna om elke leerder se potensiaal op die baan en veld te help ontsluit. Ons glo dat atletiek die basis vorm van alle sportontwikkeling en bied geleenthede vir elke kind om hul passie vir beweging te ontdek.
Oorsig & Deelname
Ouderdomme: Vanaf o. 7 tot o. 13.
Seisoen: Voorbereiding begin reeds in die voorafgaande jaar met ‘n voorseisoenprogram en dan die gewilde Massa-atletiek, waar al ons maats geleentheid kry om hul talent te ontdek. Die amptelike seisoen skop in Januarie af met die amptelike huissport, vriendskaplike byeenkomste en strek vir top-presteerders tot einde Maart.
Byeenkomste: Ons neem deel aan vriendskaplike byeenkomste, die Laeveld Interlaer en die Laerskool Taalfees Top 20. Atlete verteenwoordig die skool gereeld in Ehlanzeni-, Streek-, Mpumalanga- en SA-spanne.
Hoogste, verste, vinnigste: Atletiek











Ontwikkeling van talent
Ons skep ‘n brug tussen deelname en prestasie deur onontdekte talent te ontgin:
Geleentheid vir almal: Tydens die massa-byeenkoms kry elke leerder wat wil deelneem die kans om hulself te toets. Na afloop hiervan word die Interhuis-spanne vir ons vier kleurspanne gekies.
Ontginning van potensiaal: Spesifieke oefensessies word by die skool aangebied vir leerders wat na die Interhuis deurdring. Dit gee leerders met natuurlike talent die kans om ervaring op te doen en hul tegniek onder leiding van ons afrigters te slyp.
Afrigting van hoë gehalte
Ons plaas ’n groot premie daarop dat leerders professionele leiding ontvang.
Afrigters: Ons onderwysers word bemagtig deur ASA-geakkrediteerde afrigtingskursusse by te woon. Dit verseker dat ons personeel se kennis op datum bly met die nuutste standaarde en metodes.
Toeganklike Uitnemendheid: Deur kundige insette en praktiese ervaring te kombineer, verseker ons dat leerders hoë gehalte hulp by die skool ontvang. Leerders wat nie buite-afrigting kan bekostig nie, geniet dus steeds die volle voordeel van professionele ontwikkeling.
Die bietjie ekstra: Voor elke byeenkoms sien ons onderwysers om na die optimale opwarming van atlete. Dit verseker dat elke Nellie gereed is om te presteer terwyl die risiko vir beserings tot die minimum beperk word.
Fasiliteite, Toerusting & Drag
Baan & Veld: Ons beskik oor hoë gehalte bane en toerusting vir alle atletiekitems op ons eie terrein. Vir gespesialiseerde gooi-items soos diskus en spiesgooi, maak ons gebruik van die hoërskool se gespesialiseerde fasiliteite om optimale veiligheid en ruimte te verseker.
Moderne Toerusting: Ons belê deurlopend in toerusting om te verseker dat ons atlete met die beste hulpmiddels oefen en deelneem.
Drag: Atlete neem in Laerskool Nelspruit se atletiek-frokkie en broek deel. Drag is beskikbaar by CK Embroideries.
Organiseerder: Tiaan Rosslee
Gholf is ’n individuele sport wat binne ’n spansport funksioneer – elke leerder speel as individu, maar verteenwoordig die skool as deel van ’n span. Die doel is om leerders die sport aan te leer en terselfdertyd belangrike lewensvaardighede soos dissipline, eerlikheid, selfbeheersing en verantwoordelikheid te ontwikkel.
Oorsig & Deelname
Gedurende die seisoen kry spelers die geleentheid om amptelik in die Mpumalanga-ligaspanne vir Laeveld-skole deel te neem. Hier ding hulle teen ander skole mee om ervaring op te doen en hul spel onder wedstryddruk te ontwikkel. Daar is ’n sterk fokus op persoonlike groei, sportmangees en die bou van selfvertroue, eerder as net uitslae alleen.
Deelname is oop vir leerders vanaf Graad 1 (7 jaar oud).
Ontwikkeling van talent
Soveel moontlik leerders word aangemoedig om aan die gholfproewe deel te neem en hul talent op die baan te ontwikkel. Amptelike proewe word aan die begin van die seisoen gehou om die ligaspanne te verkies en bied vir elke speler ‘n platform om hulself te toets en te verbeter.
Afrigting
Terwyl die skool die nodige wedstrydgeleenthede, proewe en ligastrukture koördineer, word daar van spelers wat hul spel verder wil ontwikkel, verwag om afrigting van buite af te kry. Hierdie eksterne afrigting verseker dat spelers die nodige individuele, tegniese leiding kry om hul volle potensiaal te bereik.
Fasiliteite, Toerusting & Drag
Fasiliteite & Toerusting: Ligawedstryde vind plaas op die Laeveld se plaaslike gholfbane. Spelers is verantwoordelik vir hul eie gholfstokke en toerusting wat aan die vereistes van die sport voldoen.
Drag: Amptelike Nellie-sportdrag (soos voorgeskryf vir gholf-dae) moet tydens alle amptelike geleenthede, proewe en wedstryde met trots gedra word om netheid en spangees te verseker.
Organiseerder: Morné van Heerden
Passie op die Astro – Hokkie
Hokkie ’n sport van vaardigheid en karakter. Ons bied aan dogters sowel as seuns die geleentheid om hul tegniek in ’n positiewe omgewing te ontwikkel, terwyl hulle die waarde van ware spangees ervaar.
Oorsig & Deelname
Ouderdomme: Spanne vir seuns en dogters vanaf o. 10 tot o. 13.
Liga & Feesdae: o. 10: Neem deel aan opwindende feesdae en vriendskaplike wedstryde waar beskikbaar.
o. 11: Bou wedstrydervaring op in ’n vriendskaplike liga.
o. 12 & o. 13: Neem deel aan die amptelike liga-struktuur.
Prestasie: Ons is trots op ons leerders wat jaarliks vir Mpumalanga-proewe genomineer word. Verskeie van ons spelers dring deur en behaal hul provinsiale kleure in Mpumalanga-spanne.
Ontwikkeling & Toere
Ons glo aan breë blootstelling om spelers se uithouvermoë en ervaring te verbreed:
Toere: Ons ouderdomsgroepe woon verskeie toere by, onder andere die Witrivier Hokkieweek en Camp Discovery Toer. Ons eerstespanne toer ook na groot toernooie soos Bloemfontein (dogters) en Pretoria (seuns).
Klinieke & Voorseisoen: Leerders kan aan die voorseisoen-oefeninge deelneem om hul gereedheid vir die seisoen op te bou. Ons bied ook klinieke by die skool aan, soos die Hockey Hustlers-kliniek. Vir leerders wat ekstra hulp of ontwikkeling benodig, werk ons nou saam met die Rhino Hokkieklub en Akademie om seker te maak elke kind kry die nodige geleentheid om te groei.
Top klas afrigting
Ons streef daarna om die sport op ’n professionele wyse te fasiliteer:
Gekwalifiseerde Personeel: Ons afrigters word op kursusse gestuur om hul kennis te verbreed en word ook aangemoedig om hul gradering as skeidsregters te voltooi.
Professionele Insette: Deur samewerking met kundiges en klubs verseker ons dat ons spelers blootgestel word aan moderne taktieke en metodes.
Fasiliteite & Toerusting
Die Astro-veld: Ons is bevoorreg om ons eie Astro te hê, wat beteken ons leerders oefen op die regte oppervlakte om hul vaardighede optimaal te slyp. Sommige wedstryde word ook by NHS se fasiliteite gespeel.
Toerusting: Vir veiligheid en deelname is leerders verantwoordelik vir hul eie hokkiestok, mondskerm en skeenbeskermers (shin guards). Spelers mag met gewone tekkies of spesialis-hokkieskoene speel.
Organiseerder: Vanessa Schilling
By Laerskool Nelspruit is krieket meer as net ’n spel van syfers; dit is ’n sport waar dissipline, spanwerk en taktiese vernuf bymekaarkom. Ons bied aan ons spelers ’n platform om hul vaardighede op die veld te slyp terwyl hulle leer wat dit beteken om werklik deel van ’n span te wees.
Oorsig & Deelname
Ouderdomme: Ons speel krieket vanaf o. 9 tot o. 13.
Spanstruktuur: o. 9: Ons skryf twee spanne in die vriendskaplike liga in om soveel as moontlik spelers blootstelling te gee. O. 10 tot o. 13: Ons spog met o. 10A, o. 11A & B, o. 12 asook o. 13A & B spanne.
Liga & Prestasie: Vanaf o. 10 neem ons deel aan die Mpumalanga-liga. Ons is trots op ons konstante uitnemendheid – Laerskool Nelspruit het feitlik elke jaar ’n span wat in die provinsiale finaal deelneem.
Bou op elke beurt - Krieket



Ontwikkeling & Toere
Ons glo daaraan om ons spelers teen die beste in die land te meet om groei te verseker:
Jaarlikse Toere: Ons spanne toer gedurende die wintervakansie na bestemmings soos Camp Discovery en Jubaweni. Hierdie toere gee leerders die kans om teen sterk kompetisie te speel en hulself buite hul gemaksone te toets.
Seisoen: Die liga skop in die derde kwartaal af, met die deurslaggewende uitspeelwedstryde wat in die vierde kwartaal plaasvind vir die spanne wat deurgedring het.
JR Cricket Academy: Vanaf 2026 is die JR Cricket Academy by Laerskool Nelspruit betrokke. Hierdie vennootskap maak ’n beduidende verskil in die tegniese ontwikkeling van ons spelers en verseker dat hulle die nuutste afrigtingsmetodes ontvang.
Afrigting & Tellinghouers
By Nellies gaan die ondersteuning langs die veld hand-aan-hand met die aksie op die blad:
Kundige Begeleiding: Ons beskik oor bekwame personeel wat as afrigters en tellinghouers optree. Ons tellinghouers ontvang jaarliks opleiding om op hoogte te bly van enige reëlveranderings, wat verseker dat wedstryde volgens die korrekte standaarde geadministreer word.
Fasiliteite, Toerusting & Drag
Uitstekende Geriewe: Ons beskik oor ses oefennette en ’n hoofblad wat met uiterste sorg voorberei word om ’n professionele speeloppervlak te verseker.
Toerusting: Spelers is verantwoordelik vir hul eie persoonlike kriekettoerusting (kolf, helm, kolf- en beenbeskermers, handskoene en ’n liesbeskermer).
Organiseerder: Fourie du Plessis
Landloop is ’n sportsoort wat deur ’n groot aantal Nellies met trots en ywer beoefen word. Dit bied aan elke leerder die kans om hul eie grense te verskuif in ’n omgewing waar passie en deursettingsvermoë die pas aangee.
Oorsig & Deelname
Ouderdomme: Die amptelike liga begin vanaf o. 8, maar ons verwelkom selfs jonger leerders wat graag saam in hierdie ouderdomsgroep wil deelneem.
Seisoen: Voorbereiding skop dadelik na die atletiekseisoen af. Wedlope vind plaas gedurende Kwartaal 2 en 3, met die groot MUSSA- en SA-kampioenskappe wat in Kwartaal 3 beslis word.
Kompetisies: Ons neem deel aan die Ehlanzeni-liga en is bevoorreg om self ook as gasheer vir een van die ligabyeenkomste op ons eie terrein op te tree.
"Guts" en langasem – Landloop
Ontwikkeling & Toere
Alhoewel landloop ’n individuele sport is, koester ons die spangees deur unieke geleenthede:
Landlooptoer: Ons organiseerder doen baie moeite om ’n jaarlikse toer teen die einde van Kwartaal 2 te reël. Dit bied aan ons atlete ’n geleentheid wat gewoonlik net vir spansporte beskore is, en versterk die vriendskappe tussen die drawwers.
Toeganklikheid: Enige leerder mag landloop vir die skool doen. Vir diegene wat na die Mpumalanga-span mik, help ons hulle om te voldoen aan die provinsiale vereistes rakende die aantal wedlope waaraan deelgeneem moet word.
Nasionale Prestasie: Laerskool Nelspruit spog jaarliks met een van die hoogste getalle deelnemers by die SA-kampioenskappe van enige skool in die land.
Beste afrigting vir ons atlete
Ons afrigters is die hartklop van die sport:
Aktiewe Deelname: Ons afrigters staan nie net langs die kantlyn nie; hulle draf saam met die leerders en hul passie is aansteeklik. Hulle volg ’n gebalanseerde oefenplan wat ’n kombinasie van krag en uithou vermoë insluit.
ASA-akkreditasie: Personeel word jaarliks ontwikkel en voltooi hul ASA-opleiding (Athletics South Africa) om te verseker dat die oefenmetodes wetenskaplik en op datum is.
Fasiliteite & Toerusting
Pragtige Kampus: Ons is bevoorreg om ’n groot en veilige kampus te hê. Dit laat ons Nellies toe om op ’n verskeidenheid roetes te oefen eerder as om net rondom ’n baan te draf.
Toerusting: Geen ingewikkelde toerusting is nodig nie – net ’n paar hardloopskoene en Nellie-guts om die pad aan te durf.
Organiseerder: Alex Jonker
Dinamies en doelgerig - Netbal
By die Nellies streef ons daarna om dogters te ontwikkel tot gebalanseerde spelers wat met respek en integriteit op die baan uitdraf. Ons glo dat blootstelling die sleutel tot ontwikkeling is, en daarom bied ons ‘n platform waar elke dogter haar netbaltoekoms kan verryk.
Oorsig & Deelname
Ouderdomme: Dogters vanaf o. 9 tot o. 13.
Spanstruktuur: Ons skryf A- tot D-spanne in vir die meeste ouderdomsgroepe om soveel as moontlik dogters die kans te gee om te speel.
o. 9: Hierdie ouderdomsgroep fokus op vriendskaplike wedstryde om die basiese beginsels te leer.
o. 10 tot o. 13: Hierdie spanne neem deel aan die amptelike Ehlanzeni-liga.
Seisoen-verloop: Die opwinding begin die week na die Interlaer met ons amptelike proewe. Maart word gebruik vir voorseisoen-wedstryde, gevolg deur die liga in April en Mei. Die top-spanne dring deur na die ESN- en MSN-kampioenskappe in Mei en Junie.
Ontwikkeling & Toere
Ons koester talent deur ons spelers teen die beste kompetisie in die provinsie en land te meet:
Prestige Toernooi: Laerskool Nelspruit is die trotse gasheer van die Premier 8-toernooi. Hierdie gesogte geleentheid bied aan ons spelers die kans om teen top-skole buite ons gewone liga-struktuur mee te dink.
Toere: Gedurende die Maart-vakansie gaan ons spanne op toer om hul vaardighede te slyp. Bestemmings sluit in Die Poort naweek, die Koedoekop-netbaltoernooi en die Menlo-toernooi.
Klinieke: Ons bied gereeld klinieke aan waar spelers intensiewe opleiding kry om hul tegniek en spankonstruksie te verbeter.
Afrigting van hoë gehalte
By Nellies belê ons net soveel in ons personeel as in ons spelers:
Deurlopende Opleiding: Ons afrigters woon gereeld werkswinkels en afrigterskursusse by om op hoogte te bly van die nuutste tegnieke en reëls.
Skeidsregters: Ons personeel word ook opgelei en geakkrediteer as skeidsregters deur gereelde kursusse by te woon, wat verseker dat wedstryde en oefeninge volgens die hoogste standaarde gelei word.
Fasiliteite & Toerusting
Die Bane: Die skool beskik oor vier toegewyde netbalbane waar ons ligawedstryde en oefeninge plaasvind.
Toerusting: Die skool voorsien die nodige wedstrydballe, beffies en toerusting vir oefeninge. Dogters is verantwoordelik vir hul wedstryddrag en geskikte sportskoene.
Organiseerder: Riana Davel
Karakter, krag, kameraadskap - Rugby




By Laerskool Nelspruit bied rugby aan leerders die geleentheid om hul fisiese vaardighede en selfdissipline binne ‘n spanverband te ontwikkel. Ons fokus daarop om ‘n veilige en ondersteunende omgewing te skep waar elke speler, ongeag die span waarin hy speel, die waarde van harde werk en wedersydse respek kan leer.
Oorsig & Deelname
Ouderdomme: Ons bied rugby aan vanaf o. 9 tot o. 13.
Spanstruktuur: Ons beskik oor verskeie spanne per ouderdomsgroep (A, B en selfs 4de spanne) om te verseker dat elke seun die kans kry om op sy eie vlak deel te neem en wedstrydervaring op te doen.
Prestasie: Ons is trots op ons leerders wat jaarliks genomineer word vir Ehlanzeni- en Mpumalanga-proewe, met talle spelers wat hul provinsiale kleure in die top-spanne behaal.
Ontwikkeling & Toere
Ons glo daaraan om ons spelers breë blootstelling te gee deur hulle teen ‘n verskeidenheid skole te laat kragte meet:
Junior Toere: Die o. 9A & B asook die o. 10A & B-spanne toer jaarliks na Jubaweni.
Senior Ontwikkeling: Die o. 11B en 3de span toer na Marble Hall, terwyl ons B-spanne gereeld aan die Barberton-toernooi deelneem. Ons A-spanne kry ook blootstelling tydens Die Poort-naweek.
Breër Kompetisie: Die o. 11A, 2de en 1ste spanne neem deel aan die Noord/Suid-toernooi, en ons 1ste span word ook genooi na die Wildeklawer-toernooi.
Afrigting & Kundigheid
By Nellies word rugby op ‘n verantwoordelike en kundige wyse gelei:
Veiligheid & Kwalifikasies: Alle afrigters is BokSmart-gesertifiseer en woon gereeld skeidsregterskursusse by om te verseker dat spelers volgens die korrekte en veiligste tegnieke afgerig word.
Provinsiale Ervaring: Ons is bevoorreg om kundiges in ons span te hê – ‘n provinsiale afrigter by die Pumas en ‘n nasionale Top-10 skeidsregter, wie se insigte help om die standaard van afrigting vir die hele skool te lig.
Fasiliteite & Toerusting
Die Velde: Ons beskik oor uitstekende rugbyvelde wat met sorg onderhou word vir oefeninge en tuiswedstryde.
Toerusting: Vir veiligheid is ’n mondskerm verpligtend vir alle oefeninge en wedstryde. Seuns is verantwoordelik vir hul eie amptelike Nellie-rugbybroeke. Wedstrydtruie word deur die skool voorsien.
Organiseerder: Tiaan Rosslee






Elke skuif tel - Skaak
Skaak bied aan leerders ’n platform om hul brein te slyp en strategiese denke te bevorder. Dit is ’n sport waar fokus, geduld en logiese beplanning hand-aan-hand loop.
Oorsig & Deelname
Ouderdomme: Spanne word ingedeel in o. 9, o. 11 en o. 13.
Spanstruktuur: Elke span bestaan uit 6 leerders. Ons skryf ook ’n B-span van 10 leerders in om meer kinders die kans te gee om aan kompetisies deel te neem, met die opsie vir ’n dogterspan indien daar genoeg deelnemers is.
Seisoen & Kompetisies: Voorbereiding begin vroeg in Maart en die amptelike liga strek tot einde Augustus. Ons neem deel aan vriendskaplike toernooie en die amptelike liga wat uit drie rondtes bestaan, waar skole kan deurdring na die Mpumalanga-kampioenskap. Leerders kry ook gereeld die geleentheid om aan individuele toernooie in die Laeveld deel te neem om hul persoonlike spel te bevorder.
Oefening & Ontwikkeling
Ons skep ’n omgewing waar leerders gereeld teen mekaar kan skaak speel om ervaring op te doen.
Gereelde Oefening: Leerders kry die geleentheid om twee keer per week by die skool te oefen. Hierdie sessies fokus op spelervaring waar leerders teen mekaar en soms teen die afrigters speel.
Inklusiwiteit: Gedurende die voorseisoen in Maart word juniors touwys gemaak in die basiese beginsels van die spel. In April hou ons ’n Interhuis-toernooi (juniors en seniors apart), waarna die spanne vir die liga gekies word.
Aanvullende Afrigting: Terwyl die skool die nodige platform vir oefening en ligas bied, is daar ook leerders wat hul vaardighede verder verryk deur middel van private buite-afrigting.
Georganiseerde begeleiding
Skaak by Nellies word gelei deur passievolle personeel wat die sport administreer en fasiliteer:
Kundige Organisasie: Ons is bevoorreg om ’n skaakorganiseerder te hê wat ook ’n geakkrediteerde arbiter is. Dit verseker dat alle interne en eksterne wedstryde volgens die korrekte reëls en standaarde verloop.
Visuele Hulpmiddels: Ons gebruik ’n magnetiese bord met magnetiese skaakstukke om spelpatrone en situasies op ’n eenvoudige en verstaanbare manier aan leerders te verduidelik. Verder het die skool ‘n reuse buitespel skaakbord, waarop leerders mekaar kan uitdaag.
Fasiliteite & Toerusting
Binne- & Buite-spasies: Leerders oefen in ’n georganiseerde binnenshuise omgewing wat bevorderlik is vir konsentrasie. Buite die skaakklas is daar ook ’n groot skaakbord waar leerders met lewensgrootte stukke kan speel—’n gunsteling aktiwiteit wat die pret van die spel beklemtoon.
Toerusting: Die skool voorsien hoë gehalte skaakstelle en klokke vir gebruik tydens oefeninge en amptelike wedstryde.
Organiseerder: Jody van der Westhuizen






Oorsig & Deelname
Swem word vanaf o. 7 tot o. 13 aangebied en kombineer individuele dissipline met ’n sterk spangees. Die amptelike skoleseisoen vind gedurende die vierde kwartaal plaas, wanneer die span in die Ehlanzeni-liga meeding teen skole soos Curro, Uplands, Penryn, White River Primary, Riverview en Komatipoort.
Die jaarlikse interhuisgala word reeds in die laaste week van die derde kwartaal gehou. Enige leerder mag hieraan deelneem, en die amptelike Nellie-swemspan (wat jaarliks uit ongeveer 76 swemmers bestaan) word op grond van hierdie uitslae gekies.
’n Groot hoogtepunt aan die einde van Oktober is die jaarlikse Topskole Swembyeenkoms (Interlaer), waar ’n volledige span van vyf seuns en vyf dogters per ouderdomsgroep die skool verteenwoordig.
Ontwikkeling & Afrigting
Die fokus is daarop om elke swemmer te help om hul volle potensiaal, tegniek en uithouvermoë in die water te ontwikkel. Deur professionele leiding en gestruktureerde oefeninge leer die kinders waardevolle eienskappe soos selfdissipline, toewyding en sportmanskap, wat as sterk lewensvaardighede sowel binne as buite die swembad dien.
Fasiliteite & Drag
Fasiliteite: Laerskool Nelspruit beskik oor ‘n 25m swembad met 4 bane waar ons jaarlikse interhuis plaasvind.
Drag: Tydens amptelike galas neem swemmers deel in die amptelike Nellie-swembroek en ’n amptelike Nellie-swempet.
Organiseerder: Robbie Drummond





Tennis is ‘n sport wat karakter bou en leerders leer om onafhanklik op hul voete te dink.
Oorsig & Deelname
Ouderdomme: Ons bied tennis aan vir leerders vanaf Graad 1 tot Graad 7.
Seisoen & Ligas: Kwartaal 1: Die liga vir Oop B, C en D-spanne, asook die gemengde spanne vind plaas. Die o. 11-groep neem gedurende hierdie tyd aan feesdae deel.
Kwartaal 3: Dit is die hoofseisoen vir die Oop A-spanne se liga. Die gesogte Rising Star-toernooi vir oop spanne vind ook in hierdie kwartaal plaas, gevolg deur die Mpumalanga-uitspele.
Kwartaal 4: Ons hou proewe vir die daaropvolgende jaar se spanplasings.
Ontwikkeling & Afrigting
By Nellies fokus ons op ‘n professionele benadering tot die sport deur eksterne kundigheid in te span:
Kundige Begeleiding: Afrigting by Laerskool Nelspruit word behartig deur gekwalifiseerde buite-afrigters. Hierdie spesialiste fokus op die fynere tegniese aspekte van die spel en verseker dat leerders van kleins af die regte fondasie lê. (Let wel: Daar vind geen interne afrigting deur skoolpersoneel plaas nie).
Selfvertroue en Onafhanklikheid: Op die baan leer ons leerders om hul eie besluite te neem en vertroue te bou in hul eie strategieë. Hierdie onafhanklikheid vloei dikwels oor na hul akademiese en persoonlike lewe.
Fasiliteite & Toerusting
Die Bane: Die skool beskik oor drie tennisbane waar leerders kan oefen en hul wedstryde speel.
Toerusting: Leerders is verantwoordelik vir hul eie tennisrakette en toepaslike tennisskoene. Die skool bied ‘n veilige en ondersteunende omgewing waar hierdie toerusting effektief ingespan kan word.
Organiseerder: Monique Orton
Mini Hokkie




Oorsig & Deelname
Mini-Hokkie is daarop gerig om leerders vroeg reeds op ’n baie toeganklike manier aan die sport bekend te stel. Die leerders oefen eers almal saam as ’n groot groep om hul basiese vaardighede vas te lê. Nadat hierdie fondasie gevorm is, word hulle in spanne ingedeel om die opwindende geleentheid te kry om teen ander skole deel te neem. Dit verseker dat elke leerder die nodige voorbereiding geniet voordat hulle die wedstrydveld betree.
Ontwikkeling
Die klem verskuif stapsgewys van die aanleer van basiese stokvaardighede en balbeheer in die oefengroep, na spel en spanwerk wanneer die spanne gevorm word. Die doel is dat elke speler ’n gelyke geleentheid kry om wedstrydsituasies te ervaar, selfvertroue op die veld op te bou en die sport in ’n positiewe omgewing te bemeester.
Afrigting
Die afrigters hanteer die aanvanklike groep as ’n eenheid om te verseker dat elke kind dieselfde gehalte leiding en aandag ontvang. Wanneer die spanne ingedeel word, fokus die afrigting daarop om spangees te bou en die leerders te begelei tydens hul wedstryde teen ander skole.
Fasiliteite, Toerusting & Drag
Toerusting: As gevolg van die aard van die sport en die veiligheid van die leerders, is dit verpligtend dat elke speler oor hul eie hokkiestok, beenbeskermers (shin guards) en ’n mondskerm (gumguard) beskik.
Drag: Daar word in die skool se amptelike sportdrag geoefen en gespeel.
Organiseerder: Rochelle Jansen
Mini Netbal



Mini Rugby
Oorsig & Deelname
Mini-Netbal fokus op pret, samesyn en die eerste opwindende stappe op die netbalbaan. Al die dogters in die o. 7- en o. 8-ouderdomsgroepe is baie welkom om deel te neem. Oefeninge vind twee keer per week gedurende die tweede kwartaal plaas.
Ontwikkeling
Die klem is op die opskerping van basiese balvaardighede, balans en vriendskaplike wedstrydervaring. Ons poog om gedurende die seisoen by twee geleenthede teen ander skole te speel sodat die dogters hul vaardighede in ’n informele omgewing kan uitbou. Die jaarlikse Krokdag is ’n groot hoogtepunt waar ons skole van die Laeveld nooi vir ’n dag van vriendskaplike wedstryde sonder die druk van uitslae.
Afrigting
Afrigting word deur die skool se personeel behartig, wat verseker dat elke leerder die nodige leiding en aanmoediging op die baan kry.
Fasiliteite, Toerusting & Drag
Fasiliteite & Toerusting: Oefeninge en wedstryde vind op die skool se netbalbane plaas. Die skool voorsien die beffies vir die wedstryde.
Drag: Dogters neem deel en oefen in hul amptelike sportdrag en tekkies.
Organiseerder: Christelle Barnes
Oorsig & Deelname
Mini-Rugby stel leerders in die o. 7- en o. 8-ouderdomsgroepe op ’n ouderdomsgepaste manier aan die sport bekend. Die doel is dat elke speler selfvertroue bou, nuwe vaardighede aanleer en die waarde van respek, dissipline en kameraadskap in ’n positiewe en ondersteunende omgewing ervaar. Oefeninge vind twee keer per week gedurende die tweede kwartaal plaas.
Ontwikkeling
Daar word gefokus op tag-rugby, ’n formaat wat die spel veilig, vinnig en lekker maak vir jong spelers. Deur middel van tag-rugby word basiese rugbyvaardighede, beweging en spanwerk ontwikkel sonder die druk van fisiese kontak.
Ons poog om gedurende die seisoen by twee geleenthede teen ander skole te speel sodat die seuns hul vaardighede in ’n informele omgewing kan uitbou. Die jaarlikse Krokdag is ’n groot hoogtepunt waar ons skole van die Laeveld nooi vir ’n dag van vriendskaplike wedstryde sonder die druk van uitslae.
Afrigting
Die spanne word afgerig deur betrokke pappas wat help om ’n positiewe en ondersteunende spanomgewing te skep. Mnr. Freddie Welman van Puma Kidz dien as hoofafrigter en ondersteun die ontwikkeling van sowel die spelers as die afrigters deur sy ervaring en kundigheid in junior rugby.
Fasiliteite, Toerusting & Drag
Veiligheid & Toerusting: Veiligheid is ’n absolute prioriteit tydens alle oefeninge en wedstryde. Omdat tag-rugby gespeel word, word kontak beperk sodat die spelers hul vaardighede met selfvertroue kan ontwikkel. Die wedstrydtruie en “tags” word deur die skool voorsien.
Drag: Leerders moet hul eie wit rugbybroekie voorsien vir wedstryde.
Organiseerder: Jody van der Westhuizen





Mini-Krieket






Oorsig & Deelname
Mini-Krieket bied vir spelers die ideale geleentheid om die basiese beginsels van die spel te leer. Hierdie aktiwiteit is oop vir seuns in die o/7- en o/8-ouderdomsgroepe en vind plaas gedurende die derde kwartaal.
Ontwikkeling
Die fokus is op die vaslegging van die absolute grondslag en basiese vaardighede van krieket — insluitend vang, gooi, kolf en boul. Deur middel van hanteerbare, vinnige spelformate kry elke speler die kans om betrokke te be wees, selfvertroue op te bou en die sport stapsgewys onder die knie te kry sonder enige wedstryddruk.
Afrigting
Ons afrigters fokus daarop om ’n entoesiastiese, geduldige en ondersteunende omgewing te skep waar leerders teen hul eie tempo kan ontwikkel en leer om as deel van ’n span saam te werk.
Fasiliteite, Toerusting & Drag
Fasiliteite & Toerusting: Oefeninge vind op die skoolvelde plaas. Die skool voorsien die nodige mini-kriekettoerustinggereedskap maar seuns is welkom om hul eie kolwe te bring.
Drag: Leerders neem deel en oefen in hul amptelike skoolsportdrag en tekkies.
Organiseerder: Carla Liebenberg