LAERSKOOL
NELSPRUIT
Geskiedenis
110 Jaar van Hoop & Dien: Die Verhaal van Nellies
Laerskool Nelspruit is nie net ’n skool nie; dit is die wortels waaruit die hele onderwysgemeenskap van Mbombela gegroei het. As die “Moederskool” van die streek, het Nellies deur die afgelope 110 jaar nie net duisende leerders gevorm nie, maar ook die fondament gelê vir die ontstaan van vier ander groot skole in die stad.
1916 – 1941: Die Vroeë Jare en die Sinkgeboutjie
Die verhaal begin op 11 April 1916. Mnr. A.F. van Zyl open die skool met slegs 20 leerders in ’n eenvoudige, geleende sinkkamer in die middedorp. Die skoolkamer was geleë op die terrein agter die Fig Tree Hotel waar die huidige Skoolraads- en provinsiale kantore opgerig is. In hierdie tyd was die Laeveld nog ’n ongenaakbare wêreld waar malaria en bilharzia gereeld die skool gedwing het om sy deure te sluit sodat die gebou as hospitaal vir die gemeenskap kon dien.
1916
Nelspruitse Skool soos dit toe bekend gestaan het open met 20 leerders en mnr. A.F. van Zyl as hoof. Die eerste skoolgebou was ‘n geleende sinkkamer en het alle leerders tot st. VI gehuisves.
Daar was klas gehou in die verdeelde sinkkamer, in ‘n tent onder ‘n boom, in ‘n kamer van ‘n privaat woning, in die destydse landbousaal, op die verhoof van dieselfde saal, in die S.O.E.-saal en nog later in sy sykamer.
1922
Mnr. D.J.J. Bisschoff word die eerste permanente hoof. In dieselfde jaar word Nelspruit amptelik as ’n dorp geklassifiseer.
1923
Die skool se eerste vervoerstelsel word gevestig—nie ’n bus nie, maar ’n muilwa wat 11 kinders van Bosbokrand af skool toe bring.
1924
Die eerste skoolkonsert word gehou.
1925
Die skool koop sy eerste klavier, ’n Fritz Kuhla, vir R240. Hierdie einste klavier is vandag, ’n eeu later, steeds in gebruik.
1928
Die skool begin geld insamel vir biblioteekboeke.
1932
‘n Openbare biblioteek word by Laerskool Nelspruit geopen. Die maandelikse fooi was 20c per persoon. Die skool het die onderwysers op spesiale opleidings-kursusse gestuur.
1933
Skool verkry toestemming om leerlinge tot St. VIII op te lei. Die skool bestaan uit 180 leerders. ‘n Hidro-elektrisiteitsdam bring elektrisiteit na die dorp.
1934
Die eerste koshuis open vir 11 leerders. Kinders van omliggende areas soos Schagen moes met die trein ry en soms kilometers stap om betyds te wees vir die twee-en-’n-half uur wat hulle per dag in die klas kon spandeer.
1939
Die tweede Wêreld-oorlog breek uit.
1941
Na ‘n kwarteeu staan die leerdertal op 386.
1942 – 1969: ’n Nuwe Tuiste en Fenomenale Groei
1942
In 1942 trek die skool na ons huidige pragterrein tussen die granietkoppies. Dit lei ’n era van ongekende groei in.
1948
Die leerdertal styg tot 713. Die nuwe koshuis (die gebou wat vandag die Nellie Miere huisves) word geopen.
1952
Die Moederskool lewer ’n groot bydrae tot die dorp se onderwyslandskap wanneer die hoërskoolafdeling afstig as Hoërskool Nelspruit (NHS). ‘n Hoërskool met 335 leerders en ‘n laerskool met 599 leerders. Van Riebeeck-poskoets besoek die skool. ‘n Rooi-essenhoutboom word “voor” die skool geplant.
1959
Die leerdertal oorskry vir die eerste keer die 1 000-kerf.
1961
Swembad word in gebruik geneem.
1963
Opening van die nuwe skoolsaal deur Mnr A J Koen. Die saal word na Mnr Fölscher vernoem.
1966
Nellies word amptelik die grootste laerskool in Suid-Afrika met 1 395 leerders. Op 7 Januarie van hierdie jaar stig die Engelssprekende leerders af om Nelspruit Primary te vorm, en Nellies word ’n Afrikaans-medium skool. Die skool vier sy 50-jarige bestaansjaar.
1967
Leerdergetalle bereik weer 1224.
1970 – 1999: Tradisies en Tegnologie
Die skool se identiteit word verder versterk deur unieke tradisies en gemeenskapsbetrokkenheid:
1970 & 1982
Nellies dien as die fondament vir verdere onderwys-ontwikkeling in die stad wanneer twee nuwe groeipunte vanaf die Moederskool vertak: Laerskool Bergland word in 1970 geopen en Laerskool Laeveld volg in 1982.
1974
’n Jaar van legendes. Die bekende skrywer Chris Barnard skryf die skoollied. In dieselfde jaar word ’n dolfynvertoning in die skool se swembad gehou—10 ton sout moes bygevoeg word om “seewater” vir die dolfyne te skep!
1977
Die ou administratiewe kantore word in klaskamers omskep. Die eerste monument in Suid-Afrika, waarby onderwysers vereer word, is op 10 Junie 1977 onthul by Laerskool Nelspruit. By ‘n geleentheid van ‘n klipstapeling wat gehou is lank voor die bouwerk begin is, het elke leerling van die skool ‘’n klip gebring wat dan ook in die monument ingebou is. Klippe wat van elk van die ander vyf skole in Nelspruit, Hoërskool Nelspruit, Hoërskool Bergvalm, Lowveld High school, Nelspruit Primary en Laerskool Bergland is ook in die monument ingebou.
1990
Rapporte word die eerste keer deur rekenaars gedruk.
1992
Laerskool Nelspruit word ’n Staatsondersteunde skool, wat die ouergemeenskap groter beheer oor die fasiliteite en toelating gee.
1994
Lapa langs die swembad word opgerig.
1999
Mnr. Arrie Henn word aangestel as hoof en lei die skool die nuwe millennium in.
2000 – Hede: ’n Moderne Erfenis
Vandag is Laerskool Nelspruit ’n dinamiese spilpunt van innovasie, terwyl die waardes van die verlede steeds gekoester word:
2000
Word die nuwe Tennis & Netbal Lapa in gebruik geneem.
2003
Spreiligte word by rugbyveld opgerig.
2004
Sportsentrum word gebou.
2005
Hou die Nellies hul eerste gholfdag.
2010
Kampuskaffee & Ondersteunings-dienste sentrum word gebou.
2013
Die Netbalhuisie word gebou.
2016
Die skool vier sy Eeufees. ’n Tydkapsule word begrawe en ’n Geelhoutboom word geplant as geskenk vanaf NHS om ons gedeelde wortels te eer.
2020
Fibre-internet word by die skool aangelê.
2022
Mnr. D.J. Hauptfleisch neem die leisels oor. Die kampus spog nou met meer as 100 personeellede en ’n leerdertal van 1 200 (insluitend ons eie kleuterskool, die Nellie Miere).
2023
Ons rugby maak geskiedenis: Al 4 spanne is MPU liga wenners.
2025
Die toekoms is hier met die opening van ons eie Hokkie-Astro, wat verseker dat ons leerders op die hoogste vlak kan meeding.
2026
Laerskool Nelspruit vier sy 110de bestaansjaar.